Suid-Afrika het die agtste hoogste selfdoodsyfer in die wêreld met ’n gemiddeld van 8 000 mense wat jaarliks hul lewe neem, oftewel sowat 23 per dag.
Williams se selfdood het gevolg in die voetspore van ander bekende depressielyers wat selfdood gekies het, soos die Nirvana-hoofsanger Kurt Cobain, die briljante Britse modeontwerper Alexander McQueen, wêreldbekende skrywer Ernest Hemingway en die sexy aktrise Marilyn Monroe.
In Suid-Afrika het bekendes soos die potjiekosmaker en voormalige Springbokatleet Andries Krogmann, die violis Annake de Villiers, die joernalis Chris Louw en die vrou van pres. Jacob Zuma, Kate Mantsho Zuma, ook selfdood gekies.
Hoe lyk die prentjie in Suid-Afrika?
Suid-Afrika het die agtste hoogste selfdoodsyfer in die wêreld met ’n gemiddeld van 8 000 mense wat jaarliks hul lewe neem, oftewel sowat 23 per dag.
Nog sowat 230 Suid-Afrikaners probeer daagliks hulself om die lewe bring, maar slaag nie daarin nie. Selfdood is die derde grootste oorsaak van onnatuurlike sterfte in die land.
Hoewel selfdood regdeur die jaar voorkom, is daar ’n toename in selfdoodpogings van November tot Januarie, veral op Saterdae, Sondae en Maandae, verduidelik Liam Taljaard, ’n navorser by die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (SADAG). In 60% van die gevalle was die slagoffers depressief, maar het hulle nooit behandeling daarvoor ontvang nie. Sadag is ’n niewinsgewende organisasie wat die afgelope 20 jaar spesialiseer op dié gebied en spesifiek ook ’n voorkomingsprogram teen tienerselfdood dryf.
Volgens Taljaard is die grootste risikogroep vir selfdood mense tussen die ouderdom van 15 en 35 jaar. “Die hoogste voorkoms is in die ouderdomsgroep tussen 25 en 35 jaar, maar die voorkoms in die groep tussen 15 en 24 jaar neem al vinniger toe.”
Dr. S.T. Potgieter, ’n sielkundige van Bellville, sê ouers moet veral bedag wees op tieners se emosies in eksamentyd. “In Suid-Afrika kry ons jaarliks tieners wat in eksamentyd, veral in die matriekeindeksamen, selfdood pleeg. Daarbenewens het bejaardes ’n verhoogde risiko vir selfdood. Senior burgers word dikwels verstoot en vergeet. Hulle sukkel finansieel, ontwikkel gesondheidsprobleme en is baie eensaam.”
Potgieter sê mans wat afgelê word en sukkel om ander werk te kry, neig dikwels tot selfdood. “Mans is tradisioneel die broodwinner vir die gesin. Wanneer ’n man nie werk kry nie, word hy van sy selfwaarde ontneem,” verduidelik hy.
Hoe erg is die probleem?
Navorsing en statistiek oor selfdood in Suid-Afrika is erg verouderd en hoegenaamd nie akkuraat nie, sê Taljaard.
Hoewel daar jaarliks statistiek oor die voorkoms daarvan in Suid-Afrika bekend gestel word, is dit geskoei op deskundige aannames en vyf verskillende instansies se syfers. Daar is nie ’n register wat ’n ware weerspieëling kan gee nie
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is die wêreldwye gemiddeld dat 11,4 uit elke 100 000 mense hulself dood. Die WGO se syfer vir Suid-Afrika dui daarop dat die gemiddeld hier hoër is, met 14,1 uit elke 100 000 mense wat hulself dood.
Taljaard was betrokke by navorsing wat SADAG onder 20 000 leerders landwyd gedoen het. Dié navorsing dui daarop dat een uit elke vyf leerders al aan selfdood gedink of ’n selfdoodpoging aangewend het. Selfdood is die oorsaak van 9,5% van alle onnatuurlike sterftes by tieners, terwyl kinders 30% uitmaak van alle hospitaalbesoeke weens ’n mislukte selfdoodpoging. Tog is minder as 1% van alle psigiatriese hospitale landwyd geskik vir kinders. “Dit is ’n ernstige probleem en ’n groot leemte in die gesondheidstelsel,” sê Taljaard.
‘Terminale fase van depressie’
Prof. Lizette Rabe, die stigter van die Ithembastigting wat bewusmaking van en navorsing oor depressie steun, verkies dit om te sê iemand het weens depressie gesterf
“Navorsers sê selfdood is die terminale fase van depressie. Depressie is ’n biologiese siekte wat ’n chemiese wanbalans in die brein veroorsaak. Daar is ’n drastiese verlaging van die serotonienvlak in die brein wat veroorsaak dat die mens nie kans sien om verder te leef nie,” verduidelik Rabe.
Volgens haar is meer insig en begrip oor depressie nodig om dit los te maak van die veroordelende stigma” wat die siekte dra. “Mense praat nie openlik oor psigiatriese siektes soos depressie nie, terwyl dit ’n chroniese siekte is wat ’n dokter kan behandel soos enige ander.”
Rabe, hoof van die departement joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch, was een van die voorlopers met die pleidooi dat die veroordelende woord “selfmoord” met selfdood vervang word.
Haar seun, Fritz Hörstmann, ’n briljante mediese student, was in die fleur van sy lewe toe hy homself gedood het 11 maande nadat hy met depressie gediagnoseer is. Sy bedryf ook ’n webtuiste, survivorsofsuicide.org.za.
Rabe hoop dat die mediese wetenskap so kan ontwikkel dat daar eendag met ’n bloedprik vasgestel kan word wanneer iemand se serotonienvlak gevaarlik laag is.
Waar lê die fout?
Colleen Strauss, uitvoerende hoof van die Sinoville-krisissentrum in Pretoria, sê Jan en alleman sukkel toenemend om hul probleme, ongeag hoe gering dit mag wees, te verwerk en te hanteer.
“Mense voel maklik oorweldig, sukkel om kop bo water te hou en krop hul emosies op. Dit raak later eenvoudig net een te veel,” sê Strauss.
Potgieter stem saam. Volgens hom verval mense maklik in wanhoop. “Dit kan toegeskryf word aan verskeie faktore. Een daarvan is die ongunstige klimaat in die land waarin goed gekwalifiseerde mense nie ’n toekoms gebied word nie en in finansiële moeilikheid beland. Daar is ’n magteloosheid wat vererger word deur die aggressiewe klimaat waarin ons leef,” sê hy.
Volgens Potgieter kom depressie oor ’n lang tyd voor, maar word dit dikwels eers later gediagnoseer omdat mense innerlik worstel, maar ’n perfekte beeld na buite uitstraal. Strauss, wie se ma haarself gedood het, sê mense wat besluit om hulself te dood, loop vir maande met die gedagte rond. “Dit word deurdink voordat die besluit geneem word om dit op ’n dag uit te voer. Navorsing wys dat die eerste pogings dikwels onsuksesvol is, maar dat die sewende poging slaag,” sê Strauss.
Taljaard sê weens gebrekkige navorsing is dit baie moeilik om te bepaal presies waarom mense besluit om hulself te dood. “’n Bydraende faktor is beslis mense se toenemende onvermoë om krisissituasies te verwerk en te hanteer. Net 10% van mense wat selfdood pleeg, werk deur al die beplanningsfases daarvan. Die meeste loop lank met die gedagte, maar voel op ’n dag so oorweldig dat hulle oorgaan tot optrede,” sê Taljaard.
Volgens hom is veral kinders toenemend blootgestel aan dwelmmisbruik, groepsdruk, boeliegedrag, geweld, trauma en armoede, maar word hulle nie in hul ouerhuis geleer hoe om dit te hanteer of te verwerk nie.
Kyk uit vir dié gevaartekens
- Enige gedragsveranderings, onttrekking van familie en vriende.
- Gevoelens van hopeloosheid of ’n leë gevoel..
- Dood van ’n geliefde.
- Mense wat hul besittings weggee en/of polisse en ander dokumente in orde kry.
- Versteurde eet- en slaappatrone.
- Mense wat met MIV/vigs gediagnoseer word – minstens 50% ontwikkel depressie.
- ’n Familiegeskiedenis van selfdood of enige ander psigiatriese versteurings.
- Hoërisikogevalle sluit in mense met familieprobleme soos gesinsgeweld, spanningsvolle gebeure soos egskeiding of aflegging, slagoffers van seksuele molestering of verkragting, dwelm- en alkoholmisbruik.
Elke dreigement is ernstig
Kenners is dit eens dat geen dreigement van self-dood geïgnoreer mag word nie, selfs al word dit vir die 20ste keer geopper. “Elke dreigement is ’n hulpkreet en moet ernstig opgeneem word. Vra jouself af of jy die kans wil waag om dit te ignoreer,” sê Strauss.
Ook Potgieter sê selfs indirekte stellings moet as belangrik geag word, soos wanneer iemand sê hy beplan om permanent weg te gaan of hy wonder hoe dit voel om dood te wees.
“Wees veral ingestel op ’n definitiewe plan. Hoe meer gedetailleerd, spesifiek en uitvoerbaar die self-doodplan, hoe groter die risiko. Navorsing wys dat persone met ’n rigiede vorm van denke meer geneig is tot selfdood,” sê hy.
Taljaard sê SADAG se oproepsentrum hanteer gemiddeld 400 oproepe per dag en ’n verdere 50 tot 200 SMS’e.
Raad vir diegene wat agterbly
Vriende en familielede wat ná ’n selfdood agterbly, worstel met komplekse emosies. “Moenie aanhou wonder wat jy anders kon gedoen het nie. Besef dit was ’n individu se keuse, praat openlik daaroor en aanvaar dit is normaal om verwyte te hê. Kry self berading,” is Strauss se raad.
Rabe sê ná ’n selfdood word geliefdes dikwels behandel asof hulle melaats is. “Vir ’n ouer is dit ’n daaglikse worsteling. Mense kyk na jou en is net dankbaar dat dit nie met hulle gebeur het nie. Jy sit tussen die splinters van jou lewe en moet dit weer optel. Jy staan op met die seer en gaan slaap weer daarmee, worstel daarmee dwarsdeur die nag,” sê sy.
Volgens Rabe ly 350 miljoen mense wêreldwyd aan kliniese depressie. Volgens die Wêreldgesond-eidsorganisasie sal depressie teen 2020 die tweede grootste siekte ter wêreld wees en in 2030 die grootste.
Dit is daarom vir haar belangrik dat soveel moontlik mense openlik oor depressie en die stigma daaraan verbonde praat. Sy is een van die outeurs van die boek Hoop: ’n Troosboek. In dié boek vertel Rabe, Alette Delport, Cizelle Louw en Marita Swartz hoe hulle hul lewens moes herbou nadat hulle ’n geliefde aan selfdood afgestaan het. Die boek is opgedra aan hul geliefdes, Piet, Louis, Hannes en Fritz.
Die boek word beskryf as die “harde en ongenadige” werklikheid van die vier skrywers wat elkeen ’n manier moes vind om die storm te trotseer, wetende daar is geen ompad of uitkoms nie. Rabe sê die boek is geskryf sodat mense wat ook worstel om hul lewens te herbou ná die ondenkbare hul huise getref het, weet daar kom tog ’n nuwe môre, al voel dit nie vandag so nie.
Dié boek, saamgestel deur Rabe, is die vier vroue se fakkel van geloof, hoop en liefde wat hulle wil aangee in die naam van hul geliefdes. Dit bestaan uit praktiese raad oor hoe om die eerste traumatiese dae en weke te oorleef, die vroue se eie verhale en wenke oor hoe om tot verhaal te kom.>
Hoop: ’n Troosboek word uitgegee deur Mzansi-media (mzansimedia@mweb.co.za) en belangstellendes kan ook aansluit by die groeiende kubergemeenskap van geliefdes wat agterbly by survivorsofsuicide.org.za.
Volgens Potgieter moet geliefdes wat agterbly, besef rou is ’n proses waardeur hulle moet gaan. Woede teenoor die persoon wat besluit het op selfdood, is normaal en so is skuldgevoelens. “Aan die einde van die rouproses moet ons die goeie herinneringe behou, maar self weer kan lag en gelukkige tye kan beleef. Laat die helingsproses begin, fokus op die lekker tye en die positiewe in jul verhouding,” sê hy.
- Sonja Carstens se swaer, ao. Freddie Carstens, het homself drie jaar gelede gedood deur ’n oordosis pille saam met drank te neem. Hy was ’n depressielyer, maar het dit verbloem.
Klop hiér aan om hulp
- SADAG se nasionale tolvrye selfdoodkrisislyn –skakel 0800 567 567 van 08:00 tot 20:00, SMS na 31393 of besoek www.sadag.org
- Kry professionele hulp. Jou huisarts kan jou na geskikte hulp verwys of jou self behandel.
- Skakel die Sinoville-krisissentrum by 012 543 9000. Beraders is 24 uur aan diens.